Dit is nou duurder om dood te gaan

Boedelbeplanners en administrateurs moet kennis van die onlangse kosteverhogings neem. Meestersgelde, BTW, boedelbelastings- en skenkingsbelastingskoerse is verhoog.

In die Minister van Finansies se onlangse 2018-begrotingstoespraak het hy die verhoging van BTW van 14% na 15% met ingang van 1 April 2018 aangekondig. Die meeste professionele eksekuteurs en trustees behoort geregistreerde BTW-betalers te wees.

Eksekuteursfooie is gewoonlik 3.5% plus BTW. Teen 15% is dit gelyk aan 4.025% van bruto bates. Vir ‘n boedel van R5 000 000.00 is dit gelykstaande aan ‘n verhoging van R1 750.00. In effek is daar dus ‘n verhoging van R350.00 vir elke R1 000 000.00 van die bruto boedel.

‘n Boedel vereis die lewering van ander dienste, soos die oordrag van vaste eiendom, belastingopgawes en finansiële state deur boekhouers, en fooie vir beëdigde waardasies. Die meeste hiervan sal deur die verhoging in BTW geraak word.

Die gelde wat deur die bestorwe boedel aan die Meester van die Hooggeregshof verskuldig is, is op 1 Januarie 2018 verhoog. Voorheen kon hierdie gelde nooit meer as R600.00 wees nie. Hierdie vlak is teen bruto bates van ongeveer R200 000 bereik.

Ingevolge die nuwe regulasies word die Meestersgelde tot ‘n maksimum van R7 000.00 beperk – wanneer die bruto boedel R3 600 000.00 bereik. ‘n Nuwe glyskaal is van toepassing – die nuwe koerse, wat in 1983 laas aangepas is, is beduidend hoër.

Die administrasie van testamentêre en inter vivos-trusts word dikwels deur professionele trustees behartig. Die nuwe BTW-koers sal ook op hulle jaarlikse administrasiegelde en ander dienste van toepassing wees.

Die boedelbelastingkoers van 20% is verhoog na 25% vir persone wat op of na 1 Maart 2018 sterf, slegs vir daardie gedeelte van die belasbare boedel wat R30 000 000.00 oorskry. Dus sal 20% tot en met R30 miljoen (R6 miljoen) geld en 25% vir elke rand bo R30 miljoen.

Skenkingsbelasting is 20%, maar van 1 Maart 2018 af sal ‘n skenking (of skenkings) bo R30 miljoen in een belastingjaar belas word teen 25% van die waarde bo R30 miljoen. Dit stem dus steeds met boedelbelasting ooreen.

Van belang is veral die melding wat in die begrotingsoorsig gemaak word dat die “amptelike rentekoers” – tans gelyk aan die ‘repokoers’ plus 1% (7.5% p.a. op 28/3/2018) – na die ‘prima-rentekoers’ wat deur plaaslike banke gehef word, verhoog moet word (tans ongeveer 10% p.a.).

Die amptelike rentekoers word, onder andere, gebruik om die geagte skenking wat deur artikel 7C van die Wet op Inkomstebelasting daargestel word (op nierentedraende, of laerente-lenings tussen ‘verwante persone’ en trusts), te bereken. Dit is ‘n algemene boedelbeplanningswerktuig wat nog altyd baie doeltreffend was.

Die prima-rentekoers neem die banke se risikomarges in ag en dit blyk dus ontoepaslik om sodanige koers, eerder as, byvoorbeeld, ‘n geldmarkkoers, toe te pas. ‘n Mens sal maar moet wag en sien of hierdie idee sal realiseer.

Dit is belangrik om daarop te let dat die behoefte aan likiditeit nie na die afhandeling van ‘n boedel verdwyn nie. Die trustees van die gevolglike trust het ook geld nodig om die trustrekeninge te betaal, en dit word dikwels deur kliënte oorgesien. Slegs vaste bates in ‘n trust is nie voldoende om die trust in stand te hou tot, byvoorbeeld, al die begunstigdes mondig is, of op die trustkapitaal geregtig word nie.

Die verhoging in boedelbelasting en skenkingsbelasting beteken dat die gebruik van trusts in boedelbeplanning, na die mening van kenners op hierdie gebied, selfs belangriker raak. Met inflasie van ongeveer 5% p.a. kan bates oor ‘n leeftyd geweldig in waarde toeneem.

Dit beteken alles dat die likidteit van ‘n boedel en trust – wat reeds ‘n groot probleem vir eksekuteurs en trustees is – selfs beter ondersoek moet word. Meer geld sal nodig wees. Finansiële beplanners moet voorsiening maak vir kontant in die bank en lewensversekering wat aan die boedel en/of testamentêre trust uitbetaal word.

Artikel geskryf deur David Thomson, Senior Regsadviseur, Sanlam Trust