Kleinsakeondernemings het ? hupstootjie nodig

Sanlam Besigheids- en Professionele Markte,  Ekonomiese Oorsig : September 2012

Klein sakeondernemings, het dikwels hoë rathefboom-verhoudings en is geneig om tydens periodes waar rentekoerse skerp daal en groei  sterk versnel, goed te presteer.  Een voorbeeld is die tydperk vanaf middel-2003 tot en met laat in 2007 toe die reële Bruto Binnelandse Produk (BBP) groei gedurende die meeste van hierdie tydperk  5% oorskry het.  Dit het saamgeval met ‘n 6.5% afname in die prima- oortrekkingskoers.
Maar tans is die vraag waarom die verdienste van klein besighede onderdruk is, ten spyte van die sakesiklusopswaai teen die agtergrond van besonder lae rentekoerse.  Inderdaad,   die jaarlikse groei in die verdienste van genoteerde klein sakeondernemings het afgeneem tot lae enkelsyfers.
Eerstens is konstruksie en vervaardiging redelik goed in die JSE se Kleinkapitaalindeks verteenwoordig.  Ekonomiese aktiwiteit in hierdie bedrywe is gewoonlik meer siklies as, byvoorbeeld, dienstebedrywe.  Maar ten spyte van die sakesiklusopswaai het konstruksie en vervaardiging se reële BBP met slegs 2.4% en 1.7% onderskeidelik gegroei tot en met die tweede kwartaal van 2012 – wat ? swak woonhuismark en matige groei in plaaslike en buitelandse aanvraag weerspieël, vergeleke met die vorige sakesiklusopswaai.
Tweedens weerspieël die swak verdienstemomentum by kleinsake eenvoudig die vaal prestasie van die totale ekonomie.  Die huidige sakesiklusopswaai is duidelik nie so dinamies soos die vorige groei-omgewing in die aanloop na 2007 toe nie.
Sleutel- uitvoerkommoditeite se pryse het sedert verlede jaar gedaal en die land se ruilvoet (“terms of trade”) het  klaarblyklik teen die agtergrond van teleurstellende wêreldwye ekonomiese groei hul hoogtepunt bereik.  Dit strem binnelandse inkomstegroei.
En derdens is die groei  in kredietverlening aan privaat besighede  matig, ten spyte van die laagste Reserwebank-beleidskoers sedert die vroeë 1980’s.  Teen  huidige lae rentekoersvlakke behoort  die aanvraag na krediet sterk toe te neem.  Maar, dit wil voorkom dat die aanbod van  krediet deur kredietverskaffers ingekort is.   Teen die huidige lae vlak van reële rentekoerse meen  banke waarskynlik dat hulle nie genoegsaam vergoed word  vir die  risiko verbonde aan lenings aan klein besighede nie. Klein sakeondernemings is geneig om onvoorspelbare verdiensteopbrengste  te lewer.  Verder is die vereistes van Basel III, insluitende voorskrifte oor banke se likiditeitsratio’s, daarop gemik om kredietverskaffing deur banke te beperk.
Wat kan gedoen word om die verdienstemomentum van kleinsake ? hupstootjie te gee?  Hulle is per slot van rekening die bron van vernuwing en daarom ook van BBP en  werkskepping .
My kollega, Vanessa van Vuuren, die Portefeuljebestuurder vir die SIM Kleinkapitaalfonds,  let op dat klein besighede tydens die resessie deur ? proses van rasionalisering moes gaan.  Dit behoort te lei tot verbeterde verdiensteprestasie indien ekonomiese groei volgehou word.
Maar, uiteindelik  is kleinsake-ontwikkeling slegs deur middel van volgehoue,  produktiwiteitsverbetering moontlik.  Dit moet, terloops, nie die verlaging van die geldeenheid insluit nie, omdat laasgenoemde die mededingendheid van pryse slegs tydelik verbeter.  Ter inligting dui my skattings daarop dat die Rand billik teen sowat USDZAR8.40 gewaardeer is.
Suksesvolle afhandeling van die regering se infrastruktuurbestedingsprogram sal eerder ? beter beginpunt wees.
Verder behoort die regering se Vervaardigingsmededingendheidsverbeteringprogram, wat daarop gemik is om produktiwiteit en mededingendheid aan te wakker deur die aanbied van aansporings in arbeidsinstensiewe bedrywe ook te help. Bedrywe wat reeds by aansporings baat (motorvoertuie, klere, tekstiel, leer en skoeisel) word egter uitgesluit. .  Die Nasionale Tesourie se Begrotingsoorsig van Maart 2012 dui aan dat belegging in vaste kapitaal, produkontwikkeling, standaarde-akkreditasie, prosesherontwerp, en lewensvatbaarheid- en bemarkingstudies vir die aansporing kwalifiseer (p. 20).  In totaal het die Tesourie R5.7 miljard oor die volgende drie finansiële jare, insluitende 2012/13, aan die program, wat deur die Departement van Handel en Nywerheid geadministreer word, toegeken.
Maar aansporings kan slegs so vêr strek en sal waarskynlik nie die tamheid wat in die binnelandse sake-omgewing, insluitende kleinsake heers, oplos nie.
Dit is teleurstellend dat Suid-Afrika so sleg vaar in die wêreldwye entrepreneurskapsopnames.  Ons is vêr agter by talle ontluikende markte soos Argentinië, Peru, China, Brasilië, Hongarye en Uganda.  Dit dui daarop aan dat ons  ? kwantumsprong in vaardigheidsontwikkeling nodig het om die vestiging van Klein & Medium Sakeondernemings te bevorder.
Artikel geskryf deur Arthur Kamp, Beleggingsekonoom, Sanlam Beleggingsbestuur

Leave a Comment