OMSIGTIGHEIDSONDERSOEK – GRAWE DIEP

Hierdie artikel is geskryf uit die perspektief van ’n koper, wat ’n klein/medium grootte besigheid wil aankoop.  Die afgelope paar jaar was daar baie klem op die verkoper se omsigtigheidsondersoek van ’n koper – om die verkoper tevrede te stel dat die koper werklik ’n koper is en die aankoopprys kan bekostig.  Die omsigtigheidsondersoek van die verkoper sal in ’n afsonderlike artikel behandel word.

’n Omsigtigheidsondersoek is die proses waardeur die koper vir homself sekerheid bekom dat hy in werklikheid aankoop wat die verkoper sê hy wil verkoop.  Dit is ‘n ondersoek (nie ’n oudit nie) van ’n potensiële transaksie, om tot die tevredenheid van die koper te bepaal of hy met die transaksie wil voortgaan, of wil onttrek.

Die omvang van die ondersoek hang van die grootte van die transaksie af, en ongelukkig vir klein tot medium grootte transaksies, kan die ondersoek daarvan meer kompleks as vir groter transaksies wees, weens swak korporatiewe bestuur, ’n gebrek aan regsnakoming, swak rekeningkundige/administratiewe stelsels en te dikwels kortpaaie wat met die belastinggaarder geneem is – daarom die nodigheid vir die koper om diep te grawe.

Wanneer die beginsel van ‘hou dit eenvoudig en prakties’ gevolg word, is die gebiede wat oor die algemeen spesifieke aandag, begrip en duidelikheid (indien nodig) vereis, gewoonlik gefokus rondom –

  • Of die finansiële state akkuraat en op datum is. Gaan 3 jaar terug.
  • Die voorraad in ’n verkoopbare toestand is.
  • Wat die toestand en werklike waarde van die bates is.
  • Om moontlike voordele en laste te bepaal – is dit ’n mark wat aan die afneem is?
  • Of die besigheid solvent is.
  • Wat die sakerisiko’s is – is daar nuwe tegnologie wat die besigheid oortollig kan maak?
  • Of daar ’n positiewe kontantvloei is.
  • Of daar deurlopende toewyding van die werknemers af sal wees – is hulle gemotiveerd?
  • ’n Duidelike begrip van die bedryf waartoe toegetree word en belangrik, wie die mededingers is.
  • Wat die toekoms van die besigheid en sy kompetisie is.
  • Of die kontrakte in plek bly na die verandering in eienaarskap.
  • Hoe sterk die verkope- en bemarkingsafdelings is.
  • Die beeld en die reputasie van die besigheid.
  • Toerekeningsvatbaarheid en deursigtigheid van eienaars, direkteure en bestuur.
  • Hoe doeltreffend die sakebeplanning is.
  • Of die besigheid aan regs- en finansiële vereistes voldoen
  • Of daar regsaksies hangende is wat die beeld van die besigheid kan beïnvloed.
  • Evalueer die eise wat deur die eienaars/bestuur gemaak word.
  • Maak seker van die geleenthede wat beskikbaar is.
  • Geen verrassings.
  • WAAROM IS DIE BESIGHEID TE KOOP? – Indien die antwoord nie duidelik is nie, stap weg.
  • Hoe die koper die inkomste en wins van die besigheid kan verhoog en dit met sy eie laat saamsmelt.
  • Of daar ander aanbiedinge op die tafel is – moenie in ’n veiling vasgevang word nie – kry ’n onderneming van die verkoper dat hy nie tydens die omsigtigheidsondersoek met ander partye sal onderhandel nie.
  • Wat die prys en die betalingsvoorwaardes is en hoe hulle geregverdig word – belasting is ’n area wat spesifieke aandag benodig.
  • Verkry toegang tot al die bevindings van al die deelnemers, prokureurs, rekeningkundiges, ens. om te verseker dat daar ’n duidelike prentjie van die besigheid, uit alle hoeke, geskep is.  Hierdie is dikwels ’n gebied waar die koper, weens ’n tekort aan kommunikasie, nie ’n omvattende prentjie van die besigheid bekom nie en gevolglik ‘n verkeerde besluit neem.

Dit is belangrik om van die standpunt uit te gaan dat die verkoper “die waarheid, die volle waarheid en alles behalwe die waarheid” sal vertel.  Hy sal nie ’n woord rep oor enige “geraamtes in die kas” nie.  Die koper sal hulle self moet opspoor.

Daar word gesê dat hierdie ondersoek frustrerend, tydrowend en duur kan wees, maar die koper stel homself in gevaar indien hy nie sy huiswerk doen nie.  Die gebruik van onafhanklike adviseurs is dikwels nodig, maar kan duur wees – maak dus seker dat hulle oor uitgebreide ervaring beskik – gebruik “manne, nie seuns nie.”  Moenie suinig met die sente, maar rojaal met die rande wees nie.

Die volgende punte is relevant, ter uitbreiding van bogenoemde –

Die regsondersoek is daarop gemik om aan die koper die gemoedsrus te gee dat die regsake van die besigheid in orde is (veral die eienaarskap van bates), dat die besigheid aan statutêre vereistes voldoen en dat die hoofkontrakte wat die besigheid raak, in orde is.

Die hoofkomponente van die finansiële ondersoek wentel rondom die vergelyking van begrotings met die werklikheid, om te sien of voorspellings realisties is, om saketendense na te gaan en die gehalte van die rekeningkundige stelsels te bepaal.  Maak seker dat daar geen ouditeursvoorbehoude is nie – dit kan ’n transaksie kelder ( “Omstandighede van so ’n ernstige aard dat dit ’n beduidende verskil aan die transaksie maak, sodat die koper nie meer gemaklik voel om met die transaksie voort te gaan nie.”)

Uit die oogpunt van menslike hulpbronne, moet sake soos salarisvlakke, inkortings van handelsvryheid, pensioenregte en voorwaardes van die werknemer se kontrak (veral kennisgewingperiodes) in ag geneem word

Uiteindelik kan enigiets negatief wat gevind word, gebruik word om ’n verlaging in die aankoopprys te probeer bewerkstellig.

Moenie jou laat aanjaag nie – slegs ’n dwaas storm in – dit is van geen nut om na die tyd wys te wees nie.  Deur eers seker te maak, word latere probleme vermy.
Inligting verskaf deur B. Power en Sanlam Cobalt
Vir verdere navraag skakel Eugene Ward 041-365 1303

Leave a Comment