Ekonomiese kommentaar – Jac Laubscher, Groepekonoom: Sanlam Beperk

01 Oktober 2008

Die internasionale finansiële krisis – Deel 1: die impak daarvan op die reële ekonomie en finansiële markte

Dit wil voorkom asof ‘n nuwe hoofstuk weekliks geskryf word in die ontvouende drama, naamlik die internasionale finansiële krisis, waarin die wêreld reeds sedert 2007 vasgevang is. Beoordelings van die krisis, die moontlike toekomstige verloop daarvan, die uitwerking wat dit op die reële ekonomie kan hê en die mate waarin selfs lande wat nie regstreeks by die woelinge betrokke is nie (met inbegrip van Suid-Afrika) daardeur geraak kan word, word gereeld deur gebeure oorval.

Die menings wat in hierdie kommentaar uitgespreek word, moet dus as tentatief beskou word. Dit handel meestal oor die impak van die finansiële krisis op finansiële markte en die ekonomie, en laat fundamentele kwessies met betrekking tot die hervorming van die finansiële stelsel oor aan afsonderlike kommentaar.

Voor die aanvang van die woelinge in finansiële markte was dit reeds geruime tyd duidelik dat risiko nie korrek geprys is nie, dat leningspraktyke gebrekkig was en dat hefboomfinansiering hand uitgeruk het. Daar was duidelike tekens van regulatiewe mislukking en dat sakemodelle in die finansiële sektor nie volhoubaar was nie.

Dit was nogtans ‘n skok toe die internasionale interbankgeldmark in Augustus 2007 tot stilstand gekom het weens ‘n ineenstorting van vertroue in die stelsel omdat finansiële instellings bewus geword het van die feit dat die verliese as gevolg van die subprima-krisis besig was om toe te neem en dat die illikiditeit van die markte in aangetaste bates nie net die verkoop van hierdie posisies nie, maar ook die korrekte prysbepaling daarvan verhoed het. Sentrale banke het groot hoeveelhede likiditeit in die stelsel ingepomp ten einde die ontwikkeling van ‘n kredietkrisis te probeer voorkom.

Sedertdien was daar een soortgelyke voorval na die ander. Die likiditeitsinspuiting kon egter nie die markte weer op koers kry nie en individuele instellings het uiteindelik begin faal. Die owerhede het voor die uitdaging gestaan om die gepaardgaande sistemiese risiko te hanteer. Op die ou end moes hulle die kwessie van morele risiko opsysit en tot die redding kom van instellings wat nie toegelaat kon word om te faal nie omdat hulle as te groot of te vervleg met die funksionering van finansiële markte geag is. ‘n Poging is nogtans aangewend om die hulp so te struktureer dat die finansiële stelsel eerder as die aandeelhouers van instellings beskerm word.

Maar dalk is daar in hierdie tydperk te veel gefokus op die finansiële stelsel en te min op die ineenstorting van die huismark in die VSA (en elders), wat die kern van die krisis is. Huispryse het verder gedaal, met die mediaanprys in Agustus 9,5% laer as ‘n jaar gelede, en die konstruksie van nuwe huise het verder afgeneem tot die laagste vlak in 17 jaar. Die meedoënlose verswakking in die huismark tesame met die deurlopende heraanpassing van subprima-verbande het die verliese van finansiële instellings vererger, meer as gevolg van hul blootstelling aan gestruktureerde finansiële produkte gerugsteun deur verbandskuld as weens regstreekse blootstelling aan wanbetalers. Dit is duidelik dat huispryse nie gou gaan herstel nie, met die voorraad onverkoopte huise wat gelykstaande is aan 10.4 maande se verkope.

Die kerngedagte wat die afgelope week sterk tuisgebring is, is dat sistemiese probleme sistemiese, en nie gedeeltelike of geleidelike oplossings nie, vereis. Vandaar die VSA-voorstel om belastingsbetalerfondse ($700 miljard) te gebruik om die aangetaste bates uit instellings se balansstate te verwyder en sodoende hopelik teenpartyrisiko te verminder, vertroue in die stelsel te herstel en die vloei van fondse moontlik te maak.

Die besonderhede van presies hoe hierdie plan geïmplementeer gaan word, is nog nie uitgewerk nie en is te ingewikkeld om hier te bespreek, maar dit behoort ten minste steun aan batewaardes te bied. Vir gewone lenings om hervat te word, moet talle banke egter herkapitaliseer word (die totale kapitaalbehoefte van banke wêreldwyd is na raming tot $500 miljard) en daar bestaan nog onsekerheid of dié bedrag van private beleggers gaan kom en of belastingbetalers ‘n deel van die las sal moet dra.

Inbegrepe die voorgestelde bedrag van $700 miljard oorskry die totale bates wat in die VSA-regering se balansstaat opgeneem is die federale regering se bestaande totale skuld van $5 400 met ‘n aansienlike marge. Die werklike koste vir die belastingbetaler sal afhang van die prys waarteen die regering uiteindelik hierdie bates sal kan verkoop, of van die waarde van die bates indien dit tot vervaldatum gehou word, en dit sal heelwat minder wees as die blootgestelde bedrag – dit kan selfs ‘n wins oplewer. Tydens die spaar- en leningskrisis in die vroeë neëntigerjare het die regering twee derdes van sy aanvanklike blootstelling verhaal, en die finale koste het 2% van BBP beloop. Volgens Kenneth Rogoff, ‘n voormalige hoofekonoom van die IMF, kan dit hierdie keer ‘n heelwat hoër 6% tot 7% van BBP wees.

Die hoofsaak is dat dit hanteerbaar is. In 2007 het die VSA se totale staatskuld 36% van BBP uitgemaak (waarvan 32% van BBP in private hande), wat minder is as vir die meeste welvarende lande. In 2007 het sy begrotingstekort op -1,2% van BBP gestaan, hoewel dit na veraagting tot 3% van BBP kan styg in 2008/09, met rentebetalings gelykstaande aan 8,3% van lopende inkomste. In 2006 het totale belastinginkomste 28% van BBP uitgemaak. (Die statistiek kom uit die 2008 IMD World Competitiveness Yearbook.) Die VSA kan dus ‘n matige styging in staatskuld bekostig, alhoewel dit op kort termyn negatiewe implikasies vir die begrotingstekort sal inhou.

Daar sal egter ernstige gevolge vir die reële ekonomie wees, alhoewel aangevoer kan word dat baie van die slegte nuus reeds verdiskonteer is. Toenemende werkloosheid het verbruikersvertroue erg geknou en dalende batewaardes sal huishoudings dwing om hul spaarverhouding te verhoog. Dit sal moeiliker en duurder wees om krediet te bekom. Die sakesektor sal nie net met swakker vraag te make hê nie, maar ook met sy eie balansstaat-uitdagings omdat skuld wat verval moeiliker sal wees om te herfinansier. Vir die finansiële sektor beteken die verlaging van hefboomverhoudings dat sy kliënte dit ook sal moet doen.

Met min uitsondering sal lande in die ontwikkelde wêreld waarskynlik ‘n resessie beleef. Die VK, Duitsland en Japan is feitlik reeds in resessie, en dit is moeilik om te sien hoe die VSA ‘n resessie kan vermy. Wêreldhandel sal daaronder ly, en ekonomiese bedrywigheid in die opkomende wêreld sal ook beduidend verlangsaam, selfs al word ‘n algehele inkrimping vermy. Groeivooruitsigte sal waarskynlik verder afwaarts aangepas word, veral vir 2009, en twyfel wek oor die toekoms van kommoditeitspryse. Hoewel dit steeds moontlik is dat die wêreldekonomie geleidelik sal begin herstel in die tweede helfte van 2009, sal die aanpassing by ‘n nuwe finansiële argitektuur wat in die komende jare sal vorm aanneem ‘n uitgerekte proses wees.

Wat is die implikasies vir internasionale finansiële markte?

Groei in maatskappyverdienste, veral in die finansiële sektor, sal daal. Alhoewel waardasies in aandelemarkte oor die algemeen laag is, sal die swak verdienstevooruitsigte die prestasie van aandele nog geruime tyd aan bande lê. Markte sal die versekering moet hê dat ekonomiese toestande fundamenteel sal verbeter voordat hulle enigsins kan herstel.

Die herstrukturering van die finansiële sektor skep uitsonderlike geleenthede vir die sterkes om die swakkes oor te neem maar, soos met gedwonge huwelike, kan opportunistiese samesmeltings en verkrygings wat nou plaasvind later dalk by die plegers daarvan kom spook. Banke sal hul sakemodelle moet hersien teen die agtergrond van strenger regulering, en die uitwerking wat dit op hul toekomstige winsgewendheid sal hê moet nog gesien word. Daar is algemene konsensus dat die finansiële sektor opgeblase geraak het in vergelyking met die reële ekonomie en moet krimp.

Soos in enige daalmark sal daar winsgewende beleggingsgeleenthede wees, alhoewel dit moeiliker sal wees om te identifiseer.

Effekte-opbrengskoerse sal nog geruime tyd op hul onlangse lae vlakke bly as gevolg van effekte se status as ‘n veilige toevlugsoord in tye van finansiële onstuimigheid en ekonomiese inkrimping, maar beleggers sal inflasie fyn moet dophou – onthou, skuldeisers het ‘n bewese belang by hoër inflasie. Wanneer die ekonomie omswaai, kan effekte-opbrengskoerse vinnig styg en kapitaalverliese tot gevolg hê. Ten spyte van die groter aantal staatseffekte wat deur die VSA-tesourie uitgereik word, sal hierdie effekte waarskynlik nie gou hul status as die internasionale risikovrye maatstaf verloor nie.

Alhoewel die dollar se onlangse tendens van verstewiging, veral teen die euro, onderbreek is deur vrees oor die fiskale implikasies van die finansiële hulp, kan die dollar steeds voordeel trek uit die feit dat dit die ander geldeenhede vooruit is wat betref die hantering van die gevolge van die finansiële krisis.

Opkomende markte sal nie immuun wees nie. Verhoogde risikovermyding sal ‘n groter plaaslike voorkeur tot gevolg hê, met minder kapitaal wat na meer riskante bateklasse soos opkomende markte vloei. Opkomende aandele sal onder druk bly, en die styging van meer as 200 basispunte in die opkomendemarkeffektemarge sedert die middel van 2007 beloof nie goed vir die herfinansiering van vervallende opkomendemarkskuld nie, wat na bewering binne die volgende 12 maande $111 miljard sal beloop.

Die huidige woelinge in finansiële markte maak egter ook die herevaluering van die relatiewe risiko’s van opkomende markte noodsaaklik en sodra daar weer kalmte in die markte is, kan hulle heel moontlik groot wenners wees danksy hul superieure groeivooruitsigte.

Wat van Suid-Afrika?

Die Suid-Afrikaanse ekonomie beleef reeds ‘n verbruikersgeleide afswaai wat nog nie ‘n onderste draaipunt bereik het nie. Die wêreldwye finansiële krisis het verskeie kanale oopgemaak waardeur die afswaai vererger kan word.

Uitvoervolumes en -waardes kan verder afneem, Suid-Afrika se ruilvoet kan daal, en kapitaalinvloeie kan onder groot druk kom – netto buitelandse verkope van SA aandele en effekte sedert September 2007 beloop R18.1 miljard. Suid-Afrika is nogtans gelukkig om op hierdie tydstip so ‘n lae buitelandse skuldvlak te hê. Die rand kan moontlik langer swak wees en inflasie kan langer hoog bly, wat die verwagte verlaging van rentekoerse kan vertraag. Dalende batepryse, tesame met hoë skuldvlakke, kan huishoudings dwing om besteding selfs verder te verminder.

Swakker vraag sal daartoe lei dat ondernemings kapasiteitsuitbreiding uitstel, wat kapitaalbesteding kan onderdruk.

Soos hul internasionale eweknieë sal Suid-Afrikaanse maatskappye ook druk op hul verdienste ervaar. Ondanks billike tot selfs goedkoop waardasies sal plaaslike aandele sukkel om te presteer. Effekte-opbrengskoerse bly hoog as gevolg van steeds hoë inflasie, alhoewel dit die waarskynlikheid dat die monetêre beleidsverstramming ten einde gekom het, verdiskonteer.

Benewens die wêreldwye finansiële onstuimigheid het Suid-Afrikaanse beleggers ook met politieke onsekerheid te make. Ongeag die woelinge rondom individuele lede van die regering is beleidskontinuïteit die belangrikste kwessie. Die finale uitspraak hieroor sal egter eers gelewer word wanneer die nuwe administrasie wat in 2009 gaan oorneem, goed gevestig is sodat hulle volgens hul dade eerder as hul woorde beoordeel kan word.

Die beste is dus om te aanvaar dat ‘n onseker en moeilike tyd nog voorlê. Versigtigheid bly die wagwoord. Maar die krisis sal nie vir ewig duur nie. Alhoewel die finansiële reddingsplan nie ‘n towerstaf is nie, kan dit die beëindiging van die finansiële krisis inlui.

Meer oor Jac Laubscher       
 
 Jac Laubscher, Sanlam Groepekonoom, bespreek aktuele kwessies in die Suid-Afrikaanse ekonomie.

As Sanlam se Groepekonoom lewer Jac Laubscher strategiese ekonomiese insette aan die verskillende maatskappye in die groep, ter ondersteuning van hul besigheidstrategieë. Hy het sy studie in die ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en hy was die eerste Suid-Afrikaanse ekonoom wat as ’n Geoktrooieerde Finansiële Ontleder (Chartered Financial Analyst) van die CFA-instituut in die VSA gekwalifiseer het.

Jac het nog sterk bande met vooraanstaande akademiese instellings en is allerweë bekend as ’n onafhanklike en toonaangewende ontleder van gebeure en ontluikende tendense in die Suid-Afrikaanse ekonomie en finansiële markte. Sy ontledings is gegrond op fundamentele navorsing.