FlipFlop-politici

Allon Raiz (skrywer van hierdie inset) dien op ‘n stuurkomitee wat tans tender vir ‘n internasionale konferensie, wat in 2009 in Suid-Afrika gehou gaan word.  Die reëlingskomitee het uit die Verenigde State gekom om Suid-Afrika se bod na te gaan. Die onderwerp van Amerikaanse politiek het ter sprake gekom en is Allon aan ‘n nuwe term “FlipFlop-politici” (die goeie ou “manteldraaier” in Afrikaans) bekend gestel.

Die Amerikaanse media raak deesdae woedend oor politici wat vandag een ding sê en môre net die teenoorgestelde. Hulle gaan elke politikus se toespraak met ‘n fynkam na vir enigiets wat ‘n vorige uitspraak weerspreek. ‘n Politikus wat van opinie verander, word as onbetroubaar beskou en dan die etiket van “FlipFlop-politikus” omgehang, wat feitlik verseker die einde van sy/haar loopbaan beteken.

Die konsep van konsekwentheid is eweneens vir entrepreneurs van belang. Dit is net so belangrik vir enigiemand binne ‘n organisasie, wat ernstig bejeën wil word. Mense doen sake met mense wat hulle vertrou. Dit is ‘n oerinstink. Ons wil slegs jag saam met mense op wie ons kan vertrou. Ons wil nie hoef te raai waar Joe is, wanneer ons deur die ongediertes omring word nie. Indien ons kan vertrou dat Joe op sy aangewese plek binne die jaggeselskap is, dan is Joe vir ons ‘n bate; indien Joe dalk nie in sy aangewese posisie mag wees nie, dan is hy ‘n las.

Dieselfde kan van leierskap gesê word. Dit is beter om ‘n konsekwente leier, wat ‘n ietwat ander waardestelsel as jyself het, te volg, as wat jy ‘n inkonsekwente leier, wat jou waardestelsel deel, sal volg.

Dit maak dus nie saak in watter posisie jy op die oomblik is nie, maak seker dat jy konsekwent in jou optrede, konsekwent in jou reaksies, konsekwent in jou waardes en konsekwent in jou opinies, is. Betroubaarheid bou vertroue en vertroue bou jou vermoë om jou persoonlike doelwitte te bereik.

Hierdie week se uitdaging

Tree hierdie week as jou eie waarnemer op. Neem elke sin, elke stemtoon en elke aksie waar en beantwoord dan ‘n eenvoudige vraag:  “Op grond van my waarnemings, sou ek hierdie persoon 100% vertrou?”

Leave a Comment